Die klas van 2016 het op Saterdag, 30 Mei 2026, teruggekeer na hul alma mater om hul 10-jaar-reünie te vier. Dit was 'n besonderse geleentheid waar dié alumni weer kon saamkuier, herinneringe kon deel en die spesiale band wat hulle as skoolmaats gevorm het, kon herleef.
Die vieringe het afgeskop by Hoërskool Ben Viljoen se rugbywedstryd teen Hoërskool Ellisras, waar die alumni die geleentheid gehad het om weer die opwinding van Daller-sport te beleef en hul ondersteuning aan die huidige spelers te toon. Die wedstryd het die perfekte geleentheid gebied om ou vriende te ontmoet en stories uit hul skooldae op te haal.
Na afloop van die rugby het die groep hulle reünie voortgesit by die Groblersdal Gholfklub, waar hulle in 'n gesellige atmosfeer verder saam gekuier het. Die aand was gevul met lag, herinneringe en die viering van die lewenspaaie wat elkeen sedert matriek gevolg het.
Dit is altyd besonders om ons alumni terug te verwelkom by Hoërskool Ben Viljoen. Julle bly vir altyd deel van die Dallerfamilie, en ons waardeer die trots en verbondenheid waarmee julle steeds die skool ondersteun.
Baie geluk aan die Klas van 2016 met hierdie mylpaal. Mag die herinneringe wat tydens die reünie geskep is, nog lank gekoester word, en mag die Dallergees julle altyd verbind.
.png)