Leierskap, verantwoordelikheid en diensbaarheid is eienskappe wat nie oornag ontwikkel nie, maar deur voorbeeld, waardes en karakter gevorm word. Vir die Van der Walt-familie het hierdie eienskappe vanjaar op ’n besonderse manier gestalte gekry toe twee broers elk ’n belangrike leierskapsposisie by hul onderskeie skole verwerf het.
Tydens Laerskool Julian Muller se prysuitdeling is Tiaan van der Walt aangewys as een van dié skool se twee onderhoofseuns vir 2027. Hierdie aanstelling is ’n groot voorreg en getuig van die vertroue wat in hom gestel word om leiding te neem, verantwoordelikheid te aanvaar en ’n positiewe voorbeeld vir sy mede-leerders te stel.
Wat hierdie prestasie nóg meer betekenisvol maak, is dat sy ouer broer, Christoff van der Walt, wat tans ’n Graad 11-leerder by ons is, ook as ons onderhoofseun vir 2027 verkies is.
Dit is nie alledaags dat twee broers gelyktydig as onderhoofseuns by hul onderskeie skole aangewys word nie. Hoewel elkeen sy eie pad en leierskapreis volg, deel hulle nou die ongelooflike voorreg om in dieselfde jaar elk ’n belangrike rol in ons gemeenskap te vervul.
Leierskap gaan immers oor veel meer as ’n titel of ’n posisie. Dit vra toewyding, integriteit, respek en die bereidwilligheid om ander eerste te stel. Dit bied ook die geleentheid om ’n verskil te maak, medeleerders te inspireer en ’n blywende bydrae tot die skool se kultuur en tradisies te lewer.
Ons is trots op Christoff en deel graag in die vreugde van die Van der Walt-familie oor Tiaan se aanstelling. Mag hierdie twee jong leiers hul onderskeie geleenthede met ywer, nederigheid en Dallerhart aanpak.
.png)