Tiago Fernandes, een van ons huidige Graad 10-leerders, wat vanjaar as die Fotograaf van die Jaar aangewys is, het weereens bewys dat sy talent geen perke ken nie. Kreatiwiteit, talent en ’n besondere oog vir die kleiner dinge in die lewe het hom tot groot hoogtes laat presteer tydens die ATKV Aksie en Woordvreugde-tak se 2026 Fotografiekompetisie vir skoliere van 18 jaar en jonger.
Tydens vanjaar se kompetisie het Tiago behoorlik koning gekraai deur eerste plekke in beide die Diere- en Landskappe-kategorieë te verower. Dit volg nadat hy tydens verlede jaar se kompetisie reeds ’n derde plek in die Portretstudies-afdeling behaal het. Sy prestasie vanjaar is dus ’n verdere bewys van die groei en ontwikkeling van sy fotografiese vaardighede.
Fotografie is veel meer as net om ’n oomblik vas te vang. Dit verg geduld, kreatiwiteit en die vermoë om raak te sien wat ander dikwels miskyk. Of dit nou die unieke karakter van ’n dier of die natuurskoon van ’n landskap is, Tiago beskik oor die vermoë om deur sy lens ’n storie te vertel en die mooi van die alledaagse op ’n besonderse manier vas te vang.
Dat hy vanjaar in twee verskillende kategorieë met die louere weggestap het, terwyl hy ook as ons Fotograaf van die Jaar aangewys is, maak sy prestasie des te meer besonders.
Baie geluk, Tiago! Jou kreatiwiteit, passie en toewyding maak ons baie trots. Mag hierdie prestasies net die begin wees van nog vele geleenthede waarin jy jou talent met die wêreld kan deel. Ons sien met groot belangstelling uit na die besonderse oomblikke wat nog deur jou lens vasgevang gaan word!
.png)