Dit is vir ons 'n groot voorreg om mnr Coene Nolte en sy vrou, me Surné Nolte, vanaf die derde kwartaal by die Dallerfamilie te verwelkom. Mnr Nolte sal betrokke wees in die klaskamer met die aanbieding van Tegnologie, MSW, en Lewensoriëntering, terwyl Me Nolte by beide die hoofstroom- sowel as die Uduxoklasse haar stempel gaan afdruk met die aanbieding van onder andere Tegnologie en MSW.
Mnr Nolte bring 'n indrukwekkende skat van kennis en ervaring na ons skool. Met meer as 15 jaar se rugbyafrigtingservaring het hy hom gevestig as een van die mees gerespekteerde afrigters in Mpumalanga se skolerugbykringe. Sy passie vir die spel, toewyding aan spelerontwikkeling en strewe na uitnemendheid spreek uit sy merkwaardige afrigtingsrekord.
Gedurende sy afrigtingsloopbaan in Mpumalanga het mnr Nolte onder meer die volgende prestasies behaal:
* Pumas o.21 Curriebeker-afrigter (2024)
* Cravenweek-afrigter (2016 en 2025)
* Pumas Grant Khomo-afrigter (2011 en 2015)
* Pumas Akademie A-afrigter (2024)
* Mpumalanga 15-man-kampioene (2009, 2011, 2012, 2015, 2016 en 2024)
* Mpumalanga Seweskampioene (2012, 2013, 2015, 2016 en 2024)
* Makro Skole Beeldtrofee-finalis (2009, 2012, 2013 en 2015)
Hierdie indrukwekkende prestasies getuig van sy vermoë om spelers en spanne tot hul volle potensiaal te ontwikkel en om volhoubare sukses op die rugbyveld te behaal.
Ons is opgewonde oor die kennis, ervaring en passie wat mnr Nolte na Hoërskool Ben Viljoen bring, en sien uit na die positiewe bydrae wat hy tot ons rugbyprogram én die breër skoolgemeenskap sal lewer. Ons glo sy betrokkenheid sal 'n waardevolle rol speel in die verdere ontwikkeling van Dallerrugby.
Aan mnr Coene en me Surné Nolte: Mag julle baie gelukkig wees by Hoërskool Ben Viljoen. Ons wens julle alle voorspoed toe en vertrou dat julle gou soos deel van die Dallerfamilie sal voel.
.png)