KJ Briel, een van ons huidige graad 11-leerders, het vanjaar sy talent op ‘n indrukwekkende wyse ten toon gestel deur aan beide die Allegretto Toneelfees Monofees/Digiteater en Aardklop PronkDigitaal deel te neem met die aangrypende produksie My Skaduwee, geskryf deur Inamari.
Die produksie vertel die verhaal van Christo, ’n tienerseun wat tydens ’n sessie in ’n sielkundige se spreekkamer sy storie begin vertel. Hy beskryf ’n skaduwee wat met hom praat - iets wat aanvanklik na blote verbeelding lyk. Soos die verhaal ontvou, raak die skaduwee egter al hoe meer intens en persoonlik. Dit word duidelik dat hierdie skaduwee die stem van veroordeling en selftwyfel verteenwoordig wat Christo se gedagtes begin oorheers. In sy stryd teen hierdie innerlike stem moet hy uiteindelik ook veg om sy eie waarde, identiteit en selfaanvaarding te bevestig.
KJ se deelname is met besonderse erkenning beloon. By die Allegretto Toneelfees ontvang hy 'n brons toekenning vir spel, terwyl die regie en kinematografie elk ook met brons bekroon is. Die produksie as geheel is verder met 'n brons toekenning vereer – 'n bewys van die hoë standaard en gehalte van die produksie.
Sy sukses het ook by Aardklop PronkDigitaal voortgeduur, waar My Skaduwee nóg 'n brons toekenning ontvang het.
Hierdie prestasies getuig van KJ se passie, toewyding en kreatiewe vermoë as jong akteur. Sy bereidwilligheid om uitdagende temas met oortuiging uit te beeld, asook sy groei in die uitvoerende kunste, is besonders indrukwekkend. Ons is ongelooflik trots op KJ se prestasies en sien met groot verwagting uit na wat die toekoms vir hom inhou.
.png)