Hoërskool Ben Viljoen is besonders trots op een van ons oud-onderwysers en afrigters, Mnr Dave du Plessis, wat tydens die BBRCA 2026-toekenningsgeleentheid met die gesogte Gert Mulder-toekenning vereer is. Hierdie toekenning bring hulde aan ’n afrigter wie se invloed op rugby veel verder strek as die rugbyveld.
Mnr du Plessis het sy hele professionele loopbaan aan onderwys en die ontwikkeling van jongmense gewy. Deur rugby het hy die geleentheid gebruik om karakter te bou, toekomsdrome te help vorm en ’n blywende verskil in jongmense se lewens te maak.
Sy pad as afrigter by Hoërskool Ben Viljoen het gestrek vanaf 1986 tot 1996, waar hy ’n belangrike rol in ons skool se rugbygeskiedenis gespeel het. Daarna het hy sy kundigheid verder uitgebou as afrigter van die Suid-Oos-Transvaalse Cravenweek- en Akademieweekspanne, asook die Suid-Oos-Transvaalse o.21-span.
Sedert sy aanstelling by Hoërskool Eldoraigne in 2000 het hy homself as ’n gevestigde naam in skolerugby bewys. Oor meer as twee dekades het hy talle spanne afgerig en verskeie ligawenners opgelewer. Hy het ook ’n waardevolle bydrae gelewer tot die sukses van die Blou Bulle se Grant Khomo- en Cravenweekspanne.
Hoewel trofeë, titels en verteenwoordigende eerbewyse deel van sy indrukwekkende loopbaan vorm, lê sy se ware nalatenskap in die talle jong mans wie se lewens hy deur sy passie, toewyding en liefde vir skolerugby beïnvloed het.
Hoërskool Ben Viljoen is trots daarop dat Mnr du Plessis se rugbyreis ook deel van ons skool se geskiedenis is. Baie geluk, mnr! Jou bydrae tot skolerugby en die vorming van jongmense is ’n inspirasie en ’n bewys dat ’n goeie afrigter nie net spelers ontwikkel nie, maar ook mense vorm.
.png)