Die afgelope naweek het die tweede ligabyeenkoms van die varswateroewerhengelliga vir hoërskole by die Nyl Biodiversiteitdam in Mokopane plaasgevind. Die kompetisie het weereens bewys dat Hoërskool Ben Viljoen se hengelaars onder die beste tel, met uitstekende prestasies wat deur al ons spanne behaal word.
Die Ben Vissers het hul goeie vorm voortgesit, waar hulle tans ’n uitstekende seisoen beleef, en as span weereens 'n algehele tweede plek behaal. Individueel het die span ook puik gevaar, met Marthinus Dreyer wat ’n indrukwekkende derde plek verwerf het.
Die Bennies-span het die kompetisie algeheel in die sewende plek afgesluit. Daar was ook individuele hoogtepunte, met Juhandrich Grundling wat ’n derde plek in die kategorie vir die swaarste sak verwerf het.
Ons dameshengelspan, die Dallers, het egter die dag oorheers met ’n sterk spanvertoning. Hulle het die algehele eerste plek ingeneem en hul staal gewys teen sterk kompetisie. Individueel het Chene Swart ’n algehele tweede plek behaal, terwyl Jenna Berry kort op haar hakke gevolg het in die derde plek. In die swaarste sak-afdeling het Chene ook ’n tweede plek verwerf, met Jenna wat die derde plek ingeneem het. Chene het boonop die meeste visse gedurende die dag gevang, met Jenna wat, in hierdie kategorie, in die tweede plek geëindig het.
Met sulke belowende resultate is dit duidelik dat die Dallers se hengelaars die 2026-seisoen met groot selfvertroue aanpak. Ons sien met groot afwagting uit na die volgende ligabyeenkoms waar hierdie talentvolle hengelaars weer hul vaardighede ten toon gaan stel.
.png)