Ons eerste dogtershokkiespan het vanaf 30 Maart tot 2 April deelgeneem aan die Merensky Hokkiefees by Merensky Landbou Akademie in Tzaneen, waar hulle uitsonderlike hokkie en ware spangees getoon het.
Gedurende die toernooi het ons dogters met selfvertroue en deursettingsvermoë op die veld uitgestaan en indrukwekkende oorwinnings behaal. Die uitslae spreek vanself:
Wen 4–0 teen Hoërskool Driehoek
Wen 6–0 teen Hoërskool Riebeeckrand
Wen 2–0 teen Hoërskool Marais Viljoen
Wen 6–0 teen Hoërskool Pionier
Wen 6–0 teen Hoërskool Florida
Hierdie puik resultate bevestig die harde werk wat aan die begin van hierdie seisoen ingesit is, asook die span se toewyding aan uitnemendheid op- en van die veld af. Die spelers het met trots ons skool se naam hoog gehou en gewys dat spanwerk, dissipline en passie die sleutel tot sukses is.
’n Besonderse hoogtepunt van die fees is dat sewe van ons leerlinge gekies is vir die Uitnodigingspan wat na Nederland gaan toer - ‘n groot eer wat getuig van hul talent en potensiaal op internasionale vlak. Hierdie leerders is Christi Patricio, Monya van Niekerk, Jaydéne Cloete, Suné Lessing, Isabel Aguinaga, Francia Meiring en Edunette Kriel.
Ons is ongelooflik trots op elke speler en afrigter wat deel was van hierdie merkwaardige week in Tzaneen. Hierdie sukses is nie net ’n oorwinning op die veld nie, maar ook ’n viering van toewyding en groei.
.png)