Me. Jean Marie Heyns, wat deel was van die klas van 2014, het nog 'n mylpaal in haar fotografieloopbaan bereik. Me Heyns, wat tans as ons skool se bemarker en fotograaf werksaam is, is aangewys as een van die finaliste in die School Sports Photo Awards 2026, in twee kategorieë, naamlik Water Sport en Atletiek.
Hierdie prestasie is des te meer betekenisvol aangesien die foto’s deur 'n onafhanklike paneel van drie beoordelaars geëvalueer is. Elke inskrywing is uitsluitlik volgens 'n inskrywingsnommer beoordeel, sonder dat die beoordelaars enige kennis gehad het van die fotograaf se identiteit. Dit het verseker dat elke foto op sy eie meriete beoordeel is.
Die School Sports Photo Awards is Suid-Afrika se eerste en enigste toekenningsgeleentheid wat spesifiek op skoolsportfotografie fokus. Om as finalis in die eerste uitgawe van hierdie kompetisie aangewys te word, is reeds 'n groot prestasie en 'n bewys van Me Heyns se talent, kreatiwiteit en besonderse oog vir die vasvang van sportoomblikke.
Dit is egter nie die eerste keer dat Me Heyns se fotografiese talent erkenning ontvang nie. Gedurende 2024 het sy die ATKV se vyfde Digitale Kunskompetisie in die Fotografie-afdeling vir die ouderdomsgroep 25–59 jaar gewen met haar inskrywing, Vlug van Vreemdelinge. Sy het ook gedurende 2025 opgetree as die amptelike fotograaf tydens die Ndlovu Jeugkoor se Erfenisdag optrede by Sunbet Arena Times Square in Pretoria.
Die amptelike wenners van die School Sports Photo Awards 2026 word op 1 Desember 2026 bekendgemaak, wanneer die finale plasings in elke kategorie asook die algehele toekennings aangekondig sal word. Me Heyns se twee finalisbenoemings hou dus nog die moontlikheid van verdere erkenning in. Tot dan wag ons met groot afwagting op die uitslae!
.png)