Ons is ongelooflik trots op Elrie Enslin en Denise van der Walt, wat gedurende die Septembervakansie aan die Nasionale Western Mounted Games-kampioenskappe by die Afridome in Parys deelgeneem het. Dié kampioenskappe het ruiters van regoor Suid-Afrika byeengebring om hul vaardighede, spoed en samewerking met hul perde op nasionale vlak ten toon te stel.
Elrie het as Silwerruiter aan die H4WMGGWMG Vlak 2-kampioenskappe deelgeneem met haar perd, Master of Law. Ten spyte van uitdagende, nat weersomstandighede het Elrie en haar span uitstekend presteer en ’n algehele tweede plek uit die nege provinsies behaal. Die weersomstandighede het ongelukkig meegebring dat hulle nie al die items kon voltooi nie.
Elrie se individuele uitslae getuig van haar talent en vasberadenheid: sy het eerste plekke in Barrels en Single Stake behaal, ’n tweede plek in Barrel Race, ’n sewende plek in Speed Ball, ’n agtste plek in Fig 8 Flags en ’n elfde plek in Pole 1. Sy het boonop ’n algehele derde plek in haar afdeling behaal – ’n besonderse prestasie op nasionale vlak!
Denise het as Goueruiter aan die H5WMWMG Vlak 3-kampioenskappe deelgeneem met haar perd, Vice President (Shadow). Weens die ongunstige weersomstandighede kon Denise slegs aan agt van die twaalf items deelneem. Haar deelname aan hierdie nasionale kampioenskappe is nietemin ’n waardevolle prestasie en ’n bewys van haar toewyding aan die sport.
Ons wens Elrie en Denise geluk met hul deelname aan hierdie gesogte kampioenskappe. Julle passie, deursettingsvermoë en liefde vir die sport maak ons Dallerfamilie trots.
.png)