Ons is ongelooflik bevoorreg om aan te kondig dat vier van ons Dallers binnekort die geleentheid kry om Suid-Afrika se grense oor te steek en hul liefde vir hokkie op internasionale bodem uit te leef!
Mieke du Toit, een van ons Graad 9-leerders, vertrek op 25 September vir haar internasionale hokkietoer en sal tot 5 Oktober op toer wees.
As deel van haar toer sal Mieke by Royal Antwerp Hockey Club (RAHC) in België aan ’n gefokusde hokkiekliniek deelneem. Hierna sal sy en haar span die geleentheid kry om wedstryde teen HC Diemen, HC Naarden en Royal Uccle te speel. Hierdie ervaring bied Mieke die geleentheid om haar vaardighede teen internasionale teenstanders te toets en haar spel verder te ontwikkel.
Monya van Niekerk, Suné Lessing en Jaydéne Cloete vertrek op 28 September en toer tot 6 Oktober. Hulle wedstryde vind plaas by die Stichtsche Cricket & Hockey Club (SCHC) in Bilthoven, Nederland, en bied aan hulle ’n unieke geleentheid om nuwe uitdagings aan te pak, hul vaardighede te slyp en waardevolle ervaring buite Suid-Afrika op te doen.
’n Internasionale sporttoer is soveel meer as net wedstryde. Dit is ’n geleentheid om nuwe mense te ontmoet, ander speelstyle te ervaar, as spelers te groei en herinneringe te skep wat nog lank deel van hulle sportreis sal wees.
Ons wens Mieke, Monya, Suné en Jaydéne ’n veilige reis en ’n onvergeetlike Europese hokkie-avontuur toe! Mag julle hierdie besonderse geleentheid ten volle geniet, kosbare ervaring opdoen en elke oomblik koester. Dra die Dallerhart met trots saam met julle, waar julle ook al speel!
.png)