Ons o.15-krieketspan het die afgelope twee dae uitstekende vorm getoon en die week op ’n hoë noot afgesluit met twee agtereenvolgende oorwinnings.
Op 18 September het ons o.15’s teen Hoërskool Hans Strijdom kragte gemeet. Hoërskool Hans Strijdom het eerste gekolf en is vir 111 lopies in 22.2 boulbeurte uitgeboul. Ons boulers het goeie beheer van die wedstryd getoon, met Benji Kriel wat 2/6, en Lian Jordaan, Bernu Eksteen en Bernard van Blerk wat elk 2 paaltjies geneem het.
Met die kolf het ons span die teiken van 112 lopies in 23 boulbeurte bereik en met vier paaltjies gewen. Abdullah Patel het ’n belangrike onoorwonne 39 lopies van 42 balle aangeteken, terwyl Ethan Pietersen en Bernard van Blerk elk 15 lopies bygedra het.
Die span het die volgende oggend, 19 September, weer op die veld verskyn – dié keer teen Hoërskool Nylstroom se o.15-span. Hoërskool Nylstroom is eerste gestuur om te kolf en is vir slegs 79 lopies in 24.2 boulbeurte uitgeboul. Ons boulers het ’n besonderse sterk vertoning gelewer, met Abdullah Patel en Bernu Eksteen wat elk drie paaltjies geneem het, terwyl Ethan Pietersen twee paaltjies geneem het.
Ons span het die teiken van 80 lopies met gemak bereik en die wedstryd met agt paaltjies beklink. Bernu Eksteen het met 21 lopies die telling gelei, terwyl Hendrik Botes onoorwonne op 18 geëindig het en Mpho Matsetela 13 lopies aangeteken het.
Twee wedstryde, twee oorwinnings en ’n span wat met elke wedstryd waardevolle ervaring opdoen. Ons is trots op die toewyding, spanwerk en karakter wat ons o.15-krieketspelers op die veld gewys het.
.png)