Ons is besonders trots op Marice de Jager, deel van die klas van 2024 en ook voorheen deelgevorm het van die musiekduo Tuimeltrein, wat steeds opslae in die Afrikaanse musiekbedryf maak. Marice, wat deesdae op sosiale media en musiekplatforms bekendstaan as Marice Middernag, het vandag saam met die kunstenaar Jacques Not Jack hul splinternuwe enkelsnit, As die Wêreld eindig, bekendgestel.
Marice het reeds vroeër bekendheid verwerf as deel van Tuimeltrein saam met Christian Venter, ook een van ons oud-leerders. Die duo het aandag getrek met oorspronklike musiek, wat insluit Dis ’n Joke, ’n liedjie wat hulle self geskryf het en wat groot belangstelling op sosiale media ontlok het voordat dit amptelik uitgereik is.
Jacques Not Jack, met wortels in Pretoria, het op sy beurt reeds ’n stewige aanhang opgebou in die Afrikaanse pop- en rockmusiekkringe. Sy liedjie Aandklas het hom wye bekendheid besorg en word gereken as een van sy mees gewilde vrystellings.
Die nuwe snit, As die Wêreld eindig, is by Alwyn Bekker Studios opgeneem en verwerk, terwyl Marice en Jacques self die lirieke geskryf het - ’n bewys van hul kreatiewe betrokkenheid en musikale visie. Hierdie samewerking bring twee jong kunstenaars se unieke style saam en beloof om ’n vars klank aan Afrikaanse luisteraars te bied.
Die liedjie is nou beskikbaar op YouTube en ander digitale platforms:
https://youtu.be/kFb6zMSyuBI?si=D4wV7_SXwzcZMAXb
Ons wens Marice en Jacques alle voorspoed toe met hierdie vrystelling en sien met groot afwagting uit na wat die toekoms nog vir beide van hulle in die musiekbedryf inhou.
.png)