Huis Cherié Meisieskoshuis en Boomhuis Seunskoshuis het Vrydagaand hul deure oopgemaak vir volgende jaar se Graad 8-Uiltjies. Hierdie spesiale oorslaap-aksie is jaarliks een van die hoogtepunte op die koshuiskalender, en het weereens bewys hoekom ons koshuise werklik ’n huis weg van die huis is.
Die doel van die aand was om die nuwe graad 8’s ’n voorsmakie te gee van wat koshuislewe regtig behels. Vanaf die oomblik dat hulle ingestap het, is hulle begroet met opgewondenheid, warmte en die unieke gees wat die Daller-familie so besonders maak.
Benewens die heerlike kos, lag en gesels, was daar ook hope prettige aktiwiteite wat hierdie leerders kans gegee het om mekaar beter te leer ken. Speletjies en spanbou aktiwiteite het gesorg dat niemand vir ’n oomblik verveeld was nie. Ons VKR, tesame met ons bekwame koshuispersoneel, het met groot entoesiasme al die vrae beantwoord en hierdie leerders gewys hoe dinge in hul “huis” werk.
Die oorslaap-aand het meer as net herinneringe geskep, dit het die grondslag gelê vir vriendskappe, vertroue en ’n gevoel van tuiskoms. As hierdie aand ’n voorsmakie was van wat 2026 inhou, dan weet ons dié jaar gaan vol avontuur, groei en koshuistrots wees.
Ons kan eenvoudig nie wag om julle in Januarie 2026 amptelik by ons koshuisfamilie te verwelkom nie!
.png)