Loskop Gimnasium

LOSKOP WELLNESS SENTRUM bring wêrelde bymekaar

 



Almal wil deel wees van 'n wenspan. Almal het 'n hunkering om te behoort aan iets wat groter is as net hyself. Dis hoekom meeste van ons Pretoria toe ry om vir 'n dag deel te wees van iets wat ons nie in Groblersdal kry nie. Tog is ons nie ongelukkig in Groblersdal nie, ons wil maar net die beste van beide wêrelde hê, of hoe?

Die kuns is om te begin by jouself. Die oomblik wat 'n mens begin gee van jouself is die oomblik wat die hunkering begin verdwyn.

Dis waar die LOSKOP WELLNESS SENTRUM inkom. Die gimnasium is 'n gemeenskapsprojek wat die stad plaas toe bring. Fondse is bewillig deur NAMPAK en ander prominente insetverskaffers wat wil terugploeg in die gemeenskap. Uit die maatskappy se bereidwilligheid en die visie van die LOSKOPVALLEI TRUST kom 'n gimnasium toegerus met dieselfde (indien nie beter nie) apparaat en masjiene as die 
gimnasiums in die stad tot stand.

Die ligging van die LOSKOP WELLNESS SENTRUM  is baie belangrik. Al is die LOSKOP WELLNESS SENTRUM gebou op die skoolterrein van Hoërskool Ben Viljoen, funksioneer dit 'n armlengte weg. Geen fondse het van die skool gekom om die gimnasium te bou nie. Sodra alle kapitaal gedelg is, gaan alle surplusgelde van die gimnasium na die Hoërskool. Dan het die visie van die LOSKOPVALLEI TRUST gevisualiseer: 'n Fondsinsamelingsprojek wat 'n konstante vloei van geld in die skool stort. Die mammas hoef hulleself nie meer lam te bak aan pannekoeke en daardeur minimum geld inwin vir maksimum werk nie.

Die LOSKOPVALLEI TRUST  het nou die bal aan die rol gesit vir die gemeenskap om van hulleself te gee en om 'n projek te maak werk. Ons almal wil die geriewe van die stad hier hê, en ons sal moet werk om dit hier te hou. Al is jy nie 'n gretige gimnasiumhasie nie, betaal jou lidmaatskapfooi en maak dit moontlik vir iemand anders om wel te kan baat by die instansie.

As mens so van jouself gee, dan is jy deel van iets wat groter is as net jyself. Dan verdwyn hunkerings en ons het die stad se fasiliteite. Die beste van beide wêrelde!

Kontakbesonderhede:
Kontak 079 204 0015 of besoek die gimnasium se webtuiste deur HIER te druk!