Met die Covid-19 pandemie wat alle sport sedert Maart 2020 tot stilstand gedwing het, het ons dit goed gedink om onderhoude te voer met die leerlinge wat aan vanjaar se SA Atletiekbyeenkoms sou deelneem. Oor die volgende 4 weke, sal die 8 atlete van Hoërskool Ben Viljoen hulle ondervinding sowel as ‘n paar interessante feite deel.
Vandag gesels ons met Amy Marnitz, huidige Graad 9-leerling:
Hoekom het jy atletiek gekies?
Dit is definitief die adrenalien. Na my eerste wedloop in die laerskool was ek dadelik vasgevang in die gevoel van die adrenalien wat deur jou lyf vloei.
Was atletiek altyd 'n passie vir jou en hoekom?
Ja, atletiek is ‘n nog altyd my passie, dit het my baie gehelp om lewenshindernisse te oorkom omdat ek op my doelwitte fokus
Vanaf watter ouderdom / graad het jy met atletiek begin?
Graad 1
As jy enige iets kan bereik wat jy in atletiek wou, wat sou dit wees?
Om oorsee te kan gaan studeer, en natuurlik aan die Olimpiese Spele te kan deelneem
Wat sou jou “ultimate” prestasie wees?
Die grootste, mees asemrowende prestasie sal wees om eendag aan die Olimpiese Spele te kan deelneem. Maar ook om Usian Bolt en Sally Pearson te kan ontmoet
Wie rig jou af?
Ek het nie ‘n afrigter op die oomblik nie, maar volg die kennis wat ek by Tannie Elbie Pretorius geleer het in die laerskool.
Wie is jou grootste ondersteuner?
Definitief my familie, my ouers het al so baie vir my gedoen en was sovêr by elke een van my byeenkomstes.
Hoe help jou skoolwerk met jou sport?
Dit help baie om die bio-kinetika van my liggaam te verstaan. Ek is veral baie geïnteresseerd in die spierstelsel van die menslike liggaam.
Watter vaardighede en eienskappe het die beste atlete in jou posisie?
Vaardighede sal ek uit my ondervinding sê, is om ‘n veelsydige atleet te wees en eienskappe om met vasberadenheid en en volharding aan te hou en nie op te gee nie, maak nie saak hoe moeilik die sport is nie.
Hoe het Covid-19 en die grendelstaat jou beïnvloed?
Dit het net die fasiliteite toe gemaak, maar ek kon nogsteeds in die tydsgleuwe wat gegee is om te oefen, gaan draf.
Het jy 'n spesifieke roetine wat jy volg voor 'n wedloop?
Ja ek het, en dit help my met elke wedloop.
Wat van atletiek bring vir jou die meeste vreugde?
As jy jou persoonlike beste tyd, afstand en hoogte verbeter, dit maak al die oefening die moeite werd.
Wat is jou leuse (motto)?
“Dit wat jy saai is dit wat jy maai” Dit is iets wat tannie Elbè Pretorius my geleer het, en dit bly by my.
Wat is jou gunsteling item?
Ek sukkel om tussen kort hekkies en driesprong te kies maar definitief een van die twee.
Wat is jou grootste prestasie tot nou?
Om 4de te wees op SA’s met driesprong en om 1ste te gekom het by die Puma School of Speed met 90m hekkies
Wat is jou gunsteling atletiek-kategorie om mee te ding en waarom?
Baan items, dit is ‘n adrenalien opwekker.
Wat sou jy sê is die belangrikste ding wat jy moet oorweeg of aan dink voor 'n groot atletiekbyeenkoms? (Byvoorbeeld: met watse houding moet jy by 'n atletiekbyeenkoms hê en hoekom?)
Jou houding, want “wat help dit as jy negatief is maar wil jou wedloop wen?” - Tannie Elbè se woorde. Onthou jy hardloop die hekkies vir jouself met jou God gegewe talent en harde werk wat jy ingesit het.
Wie sou jy sê is jou rolmodel en waarom?
Sally Pearson, sy het reeds afgetree maar inspireer my met hoe sy haar hekkies gehardloop het en hoe rustig sy was op die baan voor ‘n wedloop.
Wat beteken dit vir jou, die wete dat jy die naam van die skool dra wanneer jy atletiek doen, en die wete dat jy die skool 'n goeie naam by hierdie geleenthede gee?
Ek dra met trots my Ben Viljoen sportdrag!